Skip to main content

Die Suid-Afrikaanse ekonomie het reeds vóór die grendeltyd swaar getrek. En toe kom twee verwoestende uitklophoue: Eers die eerste golf van Covid-19. En toe die tweede. Ekonome voorspel dit kan tot vyf jaar neem om ons ekonomie weer behoorlik op dreef te kry. Hoe kan besighede staande bly?

(Kliek hier vir die Engelse weergawe van dié artikel)

Daar’s geen twyfel dat ons ons in moeilike tye bevind nie. En dit lyk asof die grendeltyd nog lank met ons gaan wees. Baie ondernemings het dit reggekry om te oorleef omdat hulle aanpasbaar gebly het en kostes kon besnoei – en in baie gevalle was bemarking een van die eerste uitgawes wat besnoei is.

Korttermyn bemarkingsbesnoeiings mag dalk kontantvloei genereer het vir meer dringende uitgawes, soos huur en salarisse. Maar as ons na die geskiedenis kyk, is daar konkrete bewyse dat besighede wat ophou bemark, baie groter uitgawes moet aangaan om hulself in die mark te hervestig.

Lesse uit die verlede

In sy boek, The Use of Advertising During the Depression, het Roland Vaile 230 besighede uit die 1920s se opbrengste en advertensiebesteding (in tydskrifte) onder die vergrootglas geplaas. Daar was natuurlik baie ondernemings wat hul bemarking gestaak het. En ander nie.

En die instellings wat aanhou adverteer het, of selfs hul besteding aan bemarking vermeerder het, het staande gebly. Dié besighede het ook baie vinniger herstel toe die ekonomie weer op dreef kom.

Vaile se bevindings is in meer onlangse navorsing, deur Peter Field van die B2B Institute, bevestig. Field het ook na besighede tydens ekonomiese krisisse gekyk, en hy kon ’n ooreenkoms vasstel tussen die ondernemings wat staande bly: Hul handelsmerke het deurentyd teenwoordig en sigbaar gebly. In Engels word dié beginsel as “Share of Voice”, of SOV bestempel, en dit kan direk verbind word met ’n  besigheid se markaandeel.

Nes Vaile, het Field ook bevind dat instellings wat hul bemarking besnoei, sukkel om weer op dreef te kom wanneer die ekonomie herstel. En die besighede wat aanhou bemark, vaar uiteraard baie beter.

Hoekom?

Want dit kos baie meer tyd en geld om jou sigbaarheid, oftewel SOV te hervestig, as wat dit kos om dit te onderhou.

Wat is jou opsies?

Dis beslis die moeite werd om te kyk wat jy kan doen om sigbaar en teenwoordig in jou mark te bly.

Om dit te kan doen, is dit belangrik om die aard van jou besigheid te verstaan. Daar is drie kategorieë wat hier ter sprake is:

  1. Besighede wat noodsaaklike produkte en dienste lewer en tot ’n  mate afhanklik is van verskaffers en afleweringsnetwerke. Dink aan supermarkte, mediese praktyke en apteke;
  2. Verskaffers van produkte en dienste wat minder afhanklik van verskaffers en verspreiders is, soos Internet-diensverskaffers en aanlynwinkels; en
  3. Ondernemings in die diskresionêre bestedingskategorie – soos restaurante, gimnasiums, skoonheidsalonne en reisagentskappe – wat aan elke sent moet vasklou om uit die moeilikheid te bly.

As jou besigheid in die eerste kategorie val, of tot ’n  mate in die tweede een, sal dit ’n  goeie idee wees om te fokus op jou bestaande kliëntebasis en hulle te probeer behou.

Die rede hiervoor is dat jou kliënte jou nodig het – jou grootste uitdaging is om aan te hou om jou produk of diens aan hulle te verskaf.

In dié geval is dit belangrik om aan te hou kommunikeer met jou kliënte.

Hou jou kliënte bewus van jou teenwoordigheid en deel stories oor jou besigheid. Dit sal wondere verrig om jou kliëntebasis te beskerm.

As jou besigheid in die derde kategorie val, mag dit dalk beter wees om ’n  alternatiewe diens of produk te probeer lewer om nuwe voete te lok. Ons weet dis makliker as gesê as gedaan, maar ons het oor die afgelope maande talle besighede gesien wat vindingryke oplossings vind om staande en teenwoordig te bly.

Dit mag dalk nie moontlik wees om ’n  onmiddellike verbetering te sien nie, maar dit kan jou besigheid oor die langtermyn help.

Emosie is alles

Die klimaat waarin ons ons onsself tans bevind, bied ’n  fantastiese geleentheid om ‘n betekenisvolle handelsmerk te bou en na jou kliënte uit te reik. Laat hulle weet ons is saam in hierdie ding. Oor die afgelope maande het van die voorste handelsmerke boodskappe kommunikeer wat samehorigheid aanwakker, en dit het tot dusver gewerk om hul SOV en markaandeel te behou. Hulle moedig nie noodwendig kliënte aan om meer te bestee nie – al wat hulle doen, is om te kommunikeer dat ons almal in dieselfde bootjie is en dat ons veilig moet bly. Mense vind dit gerusstellend, en hou aan om dié handelsmerke te ondersteun.

Dis nie die moeite werd om te maak asof alles oukei is en mense moet aanhou koop en bestee asof ons nie onsself in ’n  tyd van geweldige en intense verandering vind nie.

Dink aan maniere waarop jy jou teikenmark kan gerusstel. Dalk ’n  mooi plasing op Instagram? Of ’n insiggewende podcast, video, nuusbrief of blog-artikel?

Die beste manier om jou kliënte se lojaliteit te kweek en behou, is om hulle emosies te verstaan en daarvolgens op te tree. Bly sigbaar vir die mense wat jou besigheid ondersteun. Bly geloofwaardig en eerlik in jou kommunikasie. As jy proaktief met jou kliënte kommunikeer, sal hulle nie sommer gou van jou besigheid vergeet nie. Dit sal hulle ook gerusstel dat jy steeds daar is vir hulle.

Dit beteken nie jy moet jou kliënte met e-posse en sosiale media plasings bombardeer nie – die opregtheid van só ’n  benadering sal bevraagteken word. Maar jy kan ’n outentieke konneksie met jou kliënte vestig deur na hulle uit te reik, na hulle te luister, en meegevoel en sorg te bied.

Bly sigbaar

Dis ’n tragiese realiteit dat baie besighede nié die grendeltyd oorleef het nie. Dis hoekom dit belangrik is om te kommunikeer dat jy steeds in besigheid is – veral as jy in die diskresionêre kategorie is.

As besigheidseienaar mag jy dalk jou sente omdraai, maar daar is eenvoudige en bekostigbare maniere om jou besigheid te bemark en sigbaar te hou. Daar is besigheidseienaars wat opregte, persoonlike (dog professionele) Whatsapp-boodskappe aan kliënte stuur en van hul onmiddellike netwerke gebruik maak om die woord te versprei dat hulle steeds in besigheid is. En dan is daar ook digitale bemarkingsroetes om te volg om by jou kliënte uit te kom, soos elektroniese nuusbriewe en sosiale media bemarking.

Voorwaarts!

Dis belangrik om uit te reik, en aan te pas by die veranderende wêreld waarin ons ons tans bevind. Die ouens wat strategies dink en hul verhoudings met hul kliënte in stand hou, gaan die sterkste bly.

Ons is inderdaad almal saam in hierdie ding. En as ons ’n  daadwerklike poging aanwend om opreg na ons kliënte uit te reik, sal ons deur hierdie ding kan kom. En wie weet? Dalk sal ons sal oor die langtermyn van krag tot krag kan gaan.

  • Kom ons pak die bul by die horings! Kontak ons gerus indien jy hulp benodig met jou bemarkingstrategie. 

© 2020 IndieContent. Made with love by urbanpxl.com